Afrikaans Bible

EFESIËRS 4

EFESIËRS

Return to Index

Chapter 5

1


 

  Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders;  

 

 

--

2


 

  en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as 'n gawe en offer aan God tot 'n lieflike geur.  

 

 

--

3


 

  Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam;  

 

 

--

4


 

  ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging.  

 

 

--

5


 

  Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat 'n afgodedienaar is, 'n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.  

 

 

--

6


 

  Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid.  

 

 

--

7


 

  Wees dan nie hulle deelgenote nie.  

 

 

--

8


 

  Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here -- wandel soos kinders van die lig.  

 

 

--

9


 

  Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.  

 

 

--

10


 

  En beproef wat die Here welbehaaglik is;  

 

 

--

11


 

  en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer.  

 

 

--

12


 

  Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem.  

 

 

--

13


 

  Maar al die dinge wat deur die lig bestraf word, word openbaar; want alles wat openbaar word, is lig.  

 

 

--

14


 

  Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.  

 

 

--

15


 

  Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse;  

 

 

--

16


 

  en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.  

 

 

--

17


 

  Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.  

 

 

--

18


 

  Moenie dronk word van wyn nie -- daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.  

 

 

--

19


 

  Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here,  

 

 

--

20


 

  terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus,  

 

 

--

21


 

  en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God.  

 

 

--

22


 

  Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.  

 

 

--

23


 

  Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.  

 

 

--

24


 

  Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.  

 

 

--

25


 

  Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het  

 

 

--

26


 

  om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,  

 

 

--

27


 

  sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.  

 

 

--

28


 

  So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief;  

 

 

--

29


 

  want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.  

 

 

--

30


 

  Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene.  

 

 

--

31


 

  Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word.  

 

 

--

32


 

  Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente.  

 

 

--

33


 

  In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig.  

 

 

--

EFESIËRS 6

 

 

 

 

HTMLBible Software - Public Domain Software by johnhurt.com

 


Other Items are Available At These Sites: